plaaskind-se-biltongmakery

PDF Aflaai

 
 
Die inhoud van die 'Maak van Biltong' en 'Resepte' webblaaie op hierdie webwerf is saamgebind in 'n PDF dokument. Hieronder is 'n skakel om hierdie dokument af te laai na jou rekenaar toe.

    Plaaskind se Biltongmakery

Nabetragting

Die kuns van biltongmaak het ontstaan uit die aloue gebruik om met sout die vog te onttrek uit vleis as 'n bederfwerende maatreël. Aan die suidpunt van Afrika het die Europese manier om hierdie soort van ding te doen met die verloop van tyd 'n plaaslike karakter aangeneem om aan te pas by plaaslike omstandighede. Die byvoeging van koljander is 'n goeie voorbeeld om te gebruik om die plaaslike aanpassings te verduidelik omdat daar nog teen omtrent 1890 mense was wat nie koljander by hul insoutingsmengsel gevoeg het nie, terwyl baie ander dit wel gedoen het. Sommige mense wat biltong geëet het wat sonder koljander gemaak is het siek geword terwyl dit nie gebeur het waar koljander bygevoeg is nie. Die byvoeging van koljander by die insoutingsmengsel het dus 'n standaard praktyk geword.

Met die standardisering van koljander as bestandeel van die insoutingsmengsel was die bestandele van tradisionele biltong nou almal opgeneem in die resep, naamlik: sout, geelsuker, salpeter, koeksoda en koljander. Alhoewel die hoeveelhede van die bestandele mag verskil en 'n mindere bestandeel mag hier en daar uitgelos gewees het, is hierdie bestandele kenmerkend van tradisionele biltong. Die insouting van vleis met 'n droë insoutingsmengsel is ook 'n eeue oue proses wat uit die mis van die vêrre verlede na ons gekom het. Hierdie bestandele en die insouting van die nat biltong met 'n droë insoutingsmengsel is dus dit wat biltong biltong maak.

Verder is dit duidelik dat die kuns om biltong te maak ontwikkel het onder die gewone mense as 'n tuisbedryf en nie ontwikkel is deur een of ander enterpreneur vir eie gewin nie. Die gewone man is dus geregtig om die tradisionele proses van biltongmaak terug te eis as sy erflating en in sy eie kombuis sy eie biltong te maak.

En mag die skande neerdaal op die ondernemings wat die tradisionele metode van biltongmaak gebruik en dan wil voorgee dat dit 'n geheime metode is wat hulle self ontwikkel het en dus die reg het om dit veilig vir hulself te bewaar.

 

Today, there have been 1 visitors (2 hits) on this page!
 
This website was created for free with Own-Free-Website.com. Would you also like to have your own website?
Sign up for free